083 455 6966   sapercheron@gmail.com   
SA Percheron Vereer Hendrik Nicolaas Basson

SA Percheron Vereer Hendrik Nicolaas Basson


Hennie is op Malmesbury gebore en het op ‘n wynplaas teen die Perdeberg opgegroei. Hy het sy skoolopleiding aan die Paarl Gimnasium ondergaan en is ‘n gegradueerde van die Universteit van Stellenbosch.

Met sy wortels in die Boland het hy reeds van kindsbeen af kennis gemaak met die trekperd- en skoutradisie wat oor geslagte heen so eie aan die Wes-Kaap was.

Met Hennie se belangstelling in en liefde vir ons volkseie geskiedenis is dit dus g’n wonder nie dat hy ‘n boek Trekperdpioniers van Suid-Afrika: 1906 tot 2006 die lig laat sien het en dat dit op sy inisiatief was dat die Nasionale Trekperdfees in 2006 in die Agter-Paarl gehou is. Hy het by dié geleentheid ook ‘n simposium oor die rol van die trekperd in Suid-Afrika gereël.

Sedert 1970 was hy vir byna twintig jaar lank ‘n redaksielid van Landbouweekblad – onder meer vir twaalf jaar Vrystaatse Redakteur. Vanuit Bloemfontein het hy die landbou en ons land se boere met groot entoesiasme gedien. Hy was ook stigter en later voorsitter van die Vrystaatse tak van die Landbouskrywersvereniging van Suid-Afrika.

In 1994 het hy in Pretoria die eerste voltydse redakteur van die suiwelbedryf se bekroonde tydskrif, The Dairy Mail, geword en later het hy ook die tydskrif SA Horseman geïnisieer.

Sedert agt jaar gelede is hy mede-organiseerder van die Hoefslagfees wat jaarliks op Geyerspan in die Noordwes- Provinsie gehou word. Dit is ‘n unieke fees waar perde van verskillende rasse – by geleentheid ook Percherons – op skouspelagtige wyse in items vertoon word wat mekaar vinnig afwissel.

Met die indrukwekkende Percherons wat Hennie in sy jongjare op Bolandse skoue en al werkende in die wingerde bewonder het, was dit vir hom hartseer om te beleef hoe die bedryf teen die einde van die vorige eeu byna sy swanesang beleef het.

Toe daar egter net meer as ‘n dekade gelede weer ‘n matige oplewing in die plaaslike bedryf begin posvat, het hy as vryskut-joernalis met berigte en artikels oor die ras in veral Landbouweekblad nuwe lewe in die bedryf help blaas. Hierdie bemarkingsaksies het momentum gekry en van toe af is die Percheron weer op die kruin van die golf.

Hennie hoop dat ons trek-en karperdrasse (veral die Vlaam, Fries, Hackney en die Percheron) as absolute deel van ons land se mooiste erfenisse vir altyd verder veredel en gekoester sal word.

Hendrik Nicolaas Basson - Gebore 27/09/1945

Hendrik Nicolaas Basson

Gebore 27/09/1945




© Percheron Horse Breeders' Society of South Africa. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of Percheron Horse Breeders' Society of South Africa.