083 455 6966   sapercheron@gmail.com   
75ste Bestaansjaar van die Percheron Telersgenootskap

75ste Bestaansjaar van die Percheron Telersgenootskap van SA


Waar die 75ste bestaansjaar van die Percherontelersgenootskap van SA in 2014 gevier is, word met genoegdoening teruggekyk na sy rol as rigtinggewende vlagskip wat die bedryf deur tye van voorspoed en krisisse moes stuur. Toe dit enkele jare gelede nog deur sy moeilikste vaarwaters gegaan het, was dit juis deur bemiddeling van hierdie organisasie dat die huidige era van die hernude gewildheid van die ras betree kon word.

Die genootskap is op 26 Mei 1939 gestig en het met ‘n ledetal van 23 begin. J.H. Bosch was die eerste voorsitter. Toe dit op 23 Augustus by die SA Stamboek geaffili-Ieer is, was daar reeds vyftig lede. Dit het onder meer die Landboukolleges Grootfontein, Glen en Elsenburg ingesluit. Oor ongeveer die eerste drie dekades het onderskeidelik F.J. van Zyl, B. Kasselman, W. Naudé en D. Potgieter as daaropvolgende voorsitters gedien.

Vir baie jare (tot in 1982) het die legendariese Piet Naudé van Overhex, buite Worcester, hierdie posisie met groot onderskeiding beklee. Frans (Oom Badie) Badenhorst van Venterstad het Naudé opgevolg en hy het die septer as voorsitter vir 22 jaar lank (tot in 2005) geswaai. Hierdie was uiters moeilike tye, onthou Lettie Kruger, wat vanaf 1963 tot vroeg in hierdie eeu sekretariële dienste vir die genootskap gelewer het. By geleentheid het net vier lede by die jaarvergadering opgedaag, vertel sy.

Nuwe vooruitsigte het egter gewink. Toe Gerrie van Zyl (Goudiniweg) en Johan van der Merwe (eers van Elsenburg en nou van die Paarl) agtereenvolgens die leisels van die genootskap oorgeneem het, is drastiese stappe gedoen om die bedryf weer op koers te kry. Daar is veral gepoog om die teel van diere van die ras, wat oor jare al hoe kleiner geword het, weer na normaliteit te laat terugkeer. Ook het groter bemarkingsaksies gevolg en mikroskyfies het brandmerk vir die identifisering van perde vervang.

Sedert Jan Engelbrecht van Pretoria drie jaar gelede tot voorsitter verkies is, is die administrasie van die genootskap opgeskerp en die hersiening van die grondwet is verlede jaar voltooi. Die ledetal wissel nou ook weer rondom ‘n aanvaarbare dertigtal. Johan Henning-Schmitt, ook van Pretoria, is die hudige sekretaris van die genootskap.

Johan van der Merwe - President van die Percheron Telersgenootskap van SA

Johan van der Merwe

President van die Percheron Telersgenootskap van SA




© Percheron Horse Breeders' Society of South Africa. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of Percheron Horse Breeders' Society of South Africa.