083 455 6966   sapercheron@gmail.com   
SA Percheron Vereer Barend Frederick Lesch

SA Percheron Vereer Barend Frederick Lesch


Die Broers Lesch van Malmesbury kan inderdaad as van die laaste groot Percherontelers uit die “goue era” van Percheronteling in die land beskou word. Hulle het ‘n beduidende aandeel gehad in die invoer van die beroemde Histon-bloedlyn wat veral sedert die twintigerjare van die vorige eeu hier ‘n onoortreflike rol vervul het.

Bennie en Dries Lesch het immers in 1963 die heel laaste hings ingevoer van die sewentien gesogte Histon-hingste wat ons land oor ‘n tydperk van byna drie dekades die land binnegebring is.

Dit was die vyfjarige Histon Interloper wat in die stalle van die beroemde Chivers Farms in Cambridge, Engeland, geteel is. Interloper het nie net naam gemaak as teelhings nie, maar ook op ons land se skoubane. Op twee agtereenvolgende nasionale kampioenskappe, wat in 1969 en 1971 gehou is, is hy as die grootkampioenhings aangewys.

Interloper se sukses was nie net aan sy afkoms toe skryf nie, maar veral ook aan die fyn aanvoeling wat Bennie vir swaar trekperde gehad het. Ook weens sy passie vir die bevordering van die Percheronras in Suid-Afrika.

Toe Bennie se pa, Andries, die plaas Klipfontein, oos van Malmesbury, in 1929 gekoop het, is swaar trekperde al hoe meer vir werk in die wingerde gebruik. Percherons, Clydesdales en muile is vir veral ploegwerk aangewend. Uitstekende muile is uit Percherons geteel.

Bennie, wat van jongs af aktief met hierdie perde gewerk het, het geglo dat daar nie ‘n beter perd is om touwys te maak en in die tuig te leer as ‘n Percheron nie. Daar was soms sowat twintig van hierdie wit- en skimmel perde op Klipfontein. Hul aanteel is veral op wynplase in die Breëriviervallei van die hand gesit.

Aangesien Bennie en Dries hulle in die vyftigerjare as van die land se voorste Percherontelers begin vestig het, het hulle in 1958 die hings Lime Brocade uit die Verenigde Koninkryk ingevoer. Vyf jaar later het hulle hul na die Histon-bloedlyn vir teling gewend en daarmee groot sukses behaal.

Benewens teling, het skoudeelname aan die Lesche groot satisfaksie verskaf. Hul diere is gekenmerk deur strawwe mededinging teen van die beste Percherons in die land, soos dié van Elsenburg en JP Hugo. Die prestasies van Histon Interloper was uiteraard die hoogtepunt van hierdie broers se betrokkenheid op skoue.

Bennie is in 1970 oorlede en kort nadat Interloper vir die tweede keer as die SA grootkampioenhings aangewys is, het hy ongelukkig bosluiskoors opgedoen en is al die Percherons uitverkoop.

Hierdie kolos in die Percheronbedryf en sy vrou Elize het ses kinders gehad waarvan Andries (Oubaas) steeds die trekperdtradisie op Klipfontein met Shetlands en SA Vlaamperde voortsit.

Barend Frederick Lesch - 18/06/1916 - 10/11/1970

Barend Frederick Lesch

18/06/1916 - 10/11/1970




© Percheron Horse Breeders' Society of South Africa. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of Percheron Horse Breeders' Society of South Africa.