083 455 6966   sapercheron@gmail.com   
SA Percheron Vereer Pierre Jean van der Merwe

SA Percheron Vereer Pierre Jean van der Merwe


Pierre van der Merwe kan beskou word as die laaste van die groot Percheron-baanbrekers uit die vorige eeu waarvan sommige oor ‘n tydperk van ongeveer vyftig jaar verantwoordelik was vir die bereiking van die volle wasdom van dié ras. Soos Dan Potgieter, Johannes Hugo, Piet Naudé en ander was hy ‘n persoonlikheid van formaat uit daardie heroïse tydperk.

Toe hierdie boer van Robertson sy Percheronbedrywighede finaal gegroet het, is ‘n lang tydvak van byna volslae stagnering in die bedryf ingelui. Eintlik het die geleidelike afname in die benutting van die ras in ons land reeds teen die einde van die 1960’s begin. Dit was in hierdie tyd, in 1968, dat hy die drie jaar oue hings Vigoureux uit Frankryk ingevoer het. Hierdie hings het gelukkig ‘n besondere bydrae in hierdie oorgangstydperk gelewer.

Pierre het op ‘n wynplaas by Rawsonville opgegroei en was dus van kindsbeen af reeds bekend met perde wat in die wingerde moes werk. Nadat hy as selfstandige boer op die plaas Madela, te Robertson, by geleentheid van die mooiste Percherons op die landbouskou op Worcester gesien het, was dit nie net hierdie perde se prag, krag en mak geaardheid
wat hom beïndruk het nie. Hy het onmiddellik gewéét dat hierdie die tipe perd was wat hy as werksperd in sy wingerde nodig gehad het.

Hy het sonder huiwer die Percherongenootskap vir leiding gekontak en gou vir hom twee merries van dié ras aangeskaf. Nadat hy met hulle begin teel het, was hy sommer gou ‘n bekende skouvertoner. Toe die Percheron-gogga hom kort hierná behoorlik begin byt, het hyself na Frankryk gereis en met behulp van ‘n tolk op die besonderse hings, Vigoureux, as sy jongste aanwins besluit.

Nie net is ploegwerk met hom gedoen nie, maar dit was ook die stoet se hoofteelhings, het op skoue uitgemunt en verskeie kampioenskappe ingepalm. Min het Pierre toe besef dat dit byna vier dekades sou duur voordat daar (in 2008) weer een van hierdie geliefde perde ingevoer sou word. Dit was Sympa de Bellevue van die Summerwindstoet, oos van Pretoria.
Vir André en Francois, die twee kinders uit sy huwelik met Pamela Huntly, was hul pa altyd ‘n onberispelike voorbeeld as mens en dié groot mentor vir hul latere lewensjare.

Ofskoon Pierre as Percheron-pionier gehuldig word, het hy reeds van kindsbeen af sy besondere lewenskwaliteite getoon. As leerling aan die Rondebosch Boys High School was hy ‘n uitstekende sportman en tydens sy studies aan die Universiteit van Kaapstad het hy vir die eerste span rugby gespeel. Selfs ook vir die Westelike Provinsie en die Sables, ‘n
gekombineerde SA universiteitspan, wat onder meer getoer het na die Britse Eilande en na Frankryk, die Percheron se land van oorsprong.

Pierre Jean van der Merwe - 14/06/1936 - 27/01/1995

Pierre Jean van der Merwe

14/06/1936 - 27/01/1995




© Percheron Horse Breeders' Society of South Africa. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of Percheron Horse Breeders' Society of South Africa.